Voordat ons aangaan met die Bybelstudie self moet ons nou meer duidelikheid kry oor die tipe dwalinge wat hier bestry word. Die ouens wat die kommentare skryf doen dit gewoonlik reg aan die begin van hulle boeke voordat hulle met hoofstuk 1:1 begin, maar ek het so bietjie daarmee gewag. Nou dat die leser 'n redelike idee het van die trant van die apostel se gesprek, gaan dit dalk nog makliker wees om die bespreking van die dwalinge van Kolossense te verstaan en in plek te plaas.

Ken hierdie agtergrond tot Kolossense en dit sal jou myle se voorsprong gee om die boek nog beter te waardeer. Onthou: Kolossense het nie hierdie jaar uit die hemel geval met 'n boodskap wat direk aan ons gerig is nie. Hy is byna 2000 jaar gelede onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf om 'n spesifieke historiese situasie die hoof te bied. Hoe beter ons van daardie historiese situasie bewus is, hoe meer sal ons instaat wees om die boek se boodskap raak te interpreteer en dan ook te "vertaal" en oor te bring na ons vandag.

J.B. Lightfoot het die volgende oor die Brief aan die Kolossense te sê: “Die leerstelling oor die Persoon van Christus word hier met die grootste noukeurigheid en volheid behandel, meer as in enige van Paulus se ander briewe.” Die rede daarvoor was dat die kettery in Kolossense grootliks op die Persoon van die Here Jesus gerig was. Dit was dus noodsaaklik dat die Apostel die leerstelling oor Hom as Persoon noukeurig en in al sy volheid sou beskryf om die valse leringe daaroor te weerlê. As ons die waarhede in Kolossense ten volle wil verstaan, moet ons eers kennis neem van hierdie kettery.

Getuienis vanuit die brief dui aan dat die kettery waarmee Paulus hier te doen gehad het, uit twee integrerende dele bestaan het. Sy verwysing na die onderhouding van die Sabbat en die nuwemaan, sy onderskeiding van vleis en drinkgoed (spys of in drank) en sy verwysing na die besnydenis, dui op die element van Judaïsme in die stelsel. Sy verwysing na ‘n selfopgelegde nederigheid en verering van die engele, die harde behandeling van die liggaam en ‘n meerderwaardige wysheid, dui aan dat hy met ‘n Gnostiese element te doen het. Die woord Gnosties kom van die Grieks gnōsis wat kennis beteken. Dit is die naam waarmee ‘n intellektuele oligargie (regering deur ‘n paar verhewe persone) benoem word. Dit is ‘n paar mense wat hulself bo alle ander mense stel as sou hulle hierdie hoër kennis besit.

Ons kyk nou na Gnostisime as stelsel. Hierdie denkrigting het hulle met twee vrae bemoei. Eerstens, hoe kan die skepping verklaar word? En tweedens, wat is die oorsaak vir die bestaan van boosheid? Hierdie twee vrae het die volgende probleem geskep: Hoe kan ‘n mens die skepping van die wêreld en die bestaan van boosheid met mekaar versoen as God die volkome Wese is? Met ander woorde, hoe versoen jy die feit van ‘n heilige God as Skepper met ‘n heelal waarin daar sonde is? Die Gnostici het as volg geredeneer: As God die skepping uit niks geskep het en dit direk uit Homself voortgebring het, kon Hy uit die aard van sy heiligheid nie ‘n bose heelal tot stand gebring het nie. Andersins word mens na die onmoontlike slotsom gedryf dat God boosheid geskep het – dit is aan die ander kant onmoontlik omdat Hy heilig is.

Tog bly die feit van ‘n heilige God en ‘n bose heelal staan; dus moet die Gnostikus antwoord. Hy doen dit deur die teorie van ‘n antagonistiese grondslag, onafhanklik van God, waardeur Sy kreatiewe energie teengestaan en beperk is. Hierdie grondslag van boosheid beskou die Gnostikus as die wêreld van materie. Dus reken hy dat boosheid in die stoflike heelal leef. Dan vra die Gnostikus die volgende vrae: Hoe is skepping dan moontlik? Hoe kan die Oneindige met die eindige kommunikeer en die goeie met die bose? Hoe kan God teenoor materie handel? God is volgens hom perfek, volkome, onverstaanbaar.

Die Gnostikus beantwoord sy eie vrae deur te sê dat die probleem opgelos word deur die teorie dat God Homself tydens die skeppingsdaad moes beperk het. Daar moes die een of ander evolusie of uitstraling van God gewees het. Daar was ‘n ontkieming of ontwikkeling van God. Hierdie eerste ontkieming het ‘n volgende tot gevolg gehad totdat die proses voltooi was. Hoe meer die uitstralings geword het, hoe verder het hulle van die Godheid beweeg. As gevolg daarvan het die goddelike element in die uitstralings vervaag totdat dit so verspreid was dat kontak met materie moontlik was en die skepping het plaasgevind. So is die gaping tussen ‘n heilige Skepper en materie wat volgens die Gnostici boos is, gevul deur hierdie uitstralings wat so ver van God af versprei is. Hierdie skeppingsdaad kan dus nie as ‘n aksie van God beskou word nie. Op hierdie manier skuif hulle die Here Jesus as tussenpersoon uit (Joh. 1:3), asook die feit dat God ‘n vloek op die perfekte skepping geplaas het as gevolg van sonde (Rom. 8:20). Paulus sê in laasgenoemde teks dat die skepping aan die nietigheid onderworpe is. God het die skepping as vrugteloos beskou in soverre dit Hom verheerlik het.

Uit hierdie filosofiese spekulasies het twee opponerende etiese kodes ontwikkel: ‘n onbuigbare asketisisme (askese – totale afsondering van die bose wêreld) en ‘n bandelose lisensie. Die probleem waarmee die Gnostici te kampe gehad het, was: Hoe kan ‘n mens materie se verderflike invloed vermy om tog sy hoër aard onbevlek te hou?

Die antwoord was, volgens een groep, ‘n onbuigbare asketisisme. Alle kontak met materie moet tot ‘n minimum beperk word. So sal die materiële deel van die mens ingeperk en doodgemaak word. ‘n Mens behoort min te eet en nie te trou nie. Om die vleis van ‘n dier te eet, is verbode. Die salwing van die liggaam met olyfolie – noodsaaklik in warm gebiede – is verbied.

Vir andere het so ‘n negatiewe houding min en onvoldoende resultate gehad. Hulle het geredeneer dat materie oral is. Niemand kan kontak daarmee vermy nie; daarom moet jy ‘n algehele onbetrokkenheid teenoor die sinnelike wêreld ontwikkel. Jy moet op geen manier aan materie dink nie, maar slegs jou eie impulse volg. Dit herinner mens aan die gedragsielkunde van vandag. Hierdie groep het gedink dat die asketiese beginsel materie as belangrik beskou, dus het hy misluk om onafhanklik van materie te leef. Die werklike reël van die lewe is om materie as iets vreemds of vyandigs te beskou; iets waarteenoor jy geen plig of verpligting het nie en wat jy kan gebruik of ongebruik kan laat soos jy verkies. Hierdie filosofie het tot ‘n bandelose lisensie gelei.

Gnostisisme, soos dit hierbo beskrywe is, het geen verband met die Christendom nie. Dit was ‘n Joodse sekte, genaamd die Esseners, wat dit in die belydende Christelike Kerk ingebring het. Die Essene was ‘n mistiese groep en lede van ‘n broederskap. Die karaktertrek van die Essenisme was mistiese spekulasie aangaande ‘n onbuigbare asketisisme.
Tog het die Esseners ook ‘n streng toepassing van Mosaïese rituele in hul stelsel gehad. In hul streng onthouding van werk op die Sabbat het hulle ander Jode ver oorskadu. Hulle sou nie ‘n vuur aansteek of ‘n pot oplig nie. Hulle sou nie die mees basiese lewensfunksie verrig nie. Die hele dag is aan godsdienstige oefeninge en die uitlegging van die Skrifte gewy. Naas God is Moses met die hoogste gesag vereer. As iemand Moses se naam ydelik sou gebruik, het hy die doodstraf gekry.

Die Esseners het baie verder as die Mosaïese wette gegaan. Die huwelik was vir hulle ‘n gruwel. Om die voortgang van die orde te verseker, het hulle kinders aangeneem. Party het die huwelik as noodsaaklik beskou om die ras voort te laat gaan, maar het dit tog as ‘n boosheid beskou. Die Esseners het geen wyn gedrink en geen vleis geëet nie. Hulle het van brood en groente geleef. Hulle het geweier om hul liggame met olyfolie in te vryf, al is dit ‘n geval van lewe en dood in warm lande. Hulle het alle natuurlike drange veroordeel en probeer om hulself van alle fisiese leeftoestande te bevry. Bykomend tot hierdie praktyke was die Esseners sonaanbidders. Teen dagbreek het hulle tot die son gebid asof hulle dit soebat om op te kom. Hulle sou alle besoedelende voorwerpe begrawe sodat dit nie die strale van die god sou beledig nie.

Die Esseners het nie in die opstanding van die liggaam geglo nie, maar het in die nadoodse siele-lewe geglo. Dit is natuurlik in aansluiting by hulle teorie dat alle materie boos is. Hulle het beweer dat die siel in die liggaam vasgevang was soos ‘n gevangene in ‘n tronk. Dit sou slegs na die dood bevry word omdat dit dan uit die liggaam kon ontsnap. Hulle het die bloedoffers van Judaïsme verwerp en het in plaas daarvan bloedlose offers as geskenke na die Tempel gestuur. Hulle het engele as wesens beskou wat aanbid moes word. Soos die Gnostici wat hulself daarop beroem het dat hulle die uitsluitlike reg op godsdienstige geheime het, het die Esseners hulle geheime leerstellings gehad wat die besit van ‘n eksklusiewe paar mense was. Hulle het geweier om dit met ander te deel, behalwe ingewydes in hul orde.

Hierdie vals leerstellings en praktyke het in die plaaslike gemeente van Kolossense ingesluip. Paulus se brief aan hierdie kerk was daarop gemik om hierdie praktyke te beveg. Een van hierdie foute was ‘n intellektuele oligargie in godsdiens, naamlik dat slegs ‘n uitverkore paar mense ‘n monopolie in hoër wysheid het. Die Apostel bestry dit deur vir die algemeenheid van die evangelieboodskap te betoog. Paulus het egter sy aanvalsmetode verander terwyl hy by hierdie leerstelling bly. Hy was nie daar om teen ‘n nasionale eksklusiwiteit in godsdiens – deel van die Fariseërs se Judaïsme - te betoog nie, maar teen die intellektuele eksklusiwiteit in die godsdiens van die Esseners wat eintlik ‘n groter gevaar vir die evangelie was omdat dit verraderlik en mooiklinkend was. Paulus vermaan elke mens en onderrig elke mens in alle wysheid sodat hy elke mens volmaak in Christus Jesus kan voorstel. (Kol. 1:28 ). Die woord volmaak is deur die Gnostici vir hul lede van die eksklusiewe groep wat die hoër wysheid besit, gebruik.

Die Gnostici het baie van wysheid (sophia), intelligensie (sunesis) en kennis (epignōsis) gemaak. Paulus gebruik die taal van die Gnostici en verwerk dit tot die hoër sfeer van die Christelike denke. Die Apostel stel die valse wysheid van die Gnostisisme teenoor die ware wysheid van die evangelie. Die inwydingsrituele van hierdie Gnostici waardeur sekeres in hul orde gewy is, was geheime dade. Paul stel daarteenoor dat al die skatte van wysheid en kennis verborge is in die allesomvattende verborgenheid, die kennis van God in Christus (Kol. 2: 2, 3). Die term verborgenheid was vir die Gnosici ‘n bevoorregte hoë kennis slegs vir ingewydes. Vir Paulus word hierdie term die algemene bekendmaking van God se wonderbare nuwe evangelie vir alle mense van alle nasies.

Paulus moes ook die Gnostiese lering van opeenvolgende uitstralings vanaf die Godheid bestry, asook die engele bemiddelaars wat vir die skepping verantwoordelik was en die hoofskap van die geestelike skepping wat die Here Jesus se plek as Skepper van die heelal en Hoof van die Kerk ingeneem het. Die Apostel beveg hierdie valse leerstellings deur te sê dat alle dinge deur Hom en tot Hom geskape is en Hy is die hoof van die Liggaam, naamlik die gemeente (Kol. 1: 16, 18 ).

In teenspraak van die lering van die Gnostici dat die goddelike uitstralings in engele vasgevang is, verklaar Paulus dat die plērōma of oorvloed (ganse volheid) van die Goddelikheid permanent in Jesus Christus woon (Kol. 1: 19). Vir die algehele goddelike wese gebruik die Gnostici hierdie woord plērōma of oorvloed (ganse volheid). Paulus sê dat Jesus Christus nie slegs die Eersgeborene van die hele skepping is nie. Hy is die Beeld van die onsienlike God …in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is (Kol. 1: 15,16). Paulus het uit noodsaak die brief aan die Kolossense geskryf om die Gnostiese kettery te beveg en dit is met reg dat Biskop Lightfoot kan sê: “ Die leerstelling oor die Persoon van Christus word hier met die grootste noukeurigheid en volheid behandel as in enige van Paulus se ander briewe.”

Ongelukkig word daar nie nou meer nuwe “briewe van Kolossense” geskryf vir elke nuwe kettery wat in die moderne tyd op die toneel verskyn nie. Ons taak as Christene is dus om nuwe ketterse rigtings te gaan beoordeel aan die hand van die positiewe uitsprake van die persoon van Jesus Christus wat hier in Kolossense voorkom en die brief dan te gebruik, nie net om die Gnostiek te beveg nie, want hulle bestaan nie meer nie, maar om volgens die metode wat ons hier sien, alle nuwe ketterse rigings onder die oordeel van die uitsprake van die Woord te bring.



 


|Kolossense II| |Kolossense| |Terug na Bybelglo.com| |Kol. 2:4| |Dwalings| |Kol. 2:5| |Kol. 2:6| |Kol. 2:7| |Kol. 2:8| |Kol. 2:9| |Kol. 2:10| |Kol. 2:11| |Kol. 2:12| |Kol. 2:13-23| |Kol. 2:13| |Kol. 2:14| |Kol. 2:15| |Kol. 2:16| |Kol. 2:17| |Kol. 2:18| |Kol. 2:19| |Kol. 2:20| |Kol. 2:21,22| |Kol. 2:23| |Kol. 3:1-4| |Kol. 3:1| |Kol. 3:2|