Kom ons kry nou eers 'n oorsig van die volgende 11 verse.

Die belangrikste is om te weet wat die sentrale boodskap van hierdie perikoop is. Wat wil Paulus eintlik in 'n neutedop in hierdie 11 verse sê? Kom ons vergelyk dit met die deel waarmee ons nou klaar is (2:4-12). Wat was die boodskap in die verse? Ek meen dit kom voor in vers 8: "Pas op dat niemand julle as buit wegvoer nie". Hulle wil julle met ou beginsels (stoigeia), wysbegeerte en tradisies om die bos lei, uitoorlê en dan as buit wegvoer. Die groot teenvoeter daarteen is dan om die geestelike werklikheid van Kol. 2:9-12 grondig te ken en te glo.

Maar wat nou van vers 13-23. Wel, hierdie tweede gedeelte van Hoofstuk twee lê pragtig in balans met die eerste deel. Vers 8 het gesê pasop dat niemand julle wegvoer nie ... Dit balanseer met die sentrale boodskap in die tweede deel (vers 16 en 18 ): "Laat niemand julle dan oordeel ... Laat niemand julle beroof nie ..." Die vyand se eerste poging is om jou totaal as buit weg te voer (vers 8 ). As hy dit nie kan regkry nie, dan probeer hy jou oordeel. Jy moet begin skuldig voel oor sekere dinge. Jy het nie jou kant gebring nie. Jy het nie die voorskrifte nagekom nie. Jy is nutteloos. Hierdie is die duiwel se oudste strategie in die boek. As jy hierdie oordele vir jouself aantrek, word jy so 'n bietjie uitgerangeer op 'n sylyn. "Ek is nie goed genoeg nie". Ek kan nie dit nie, ek kan nie dat nie. "Die Here kan my nie gebruik nie". En dit is presies wat die vyand wil hê. Die duiwel wil ten alle koste verhoed dat Christene oorborrel van Godsvertroue (nie selfvertroue nie) en 'n nuttige instrument vir die Here word. Daarom is dit die sentrale boodskap van die tweede deel: "Laat niemand julle oordeel nie"

Vers 18 gaan daarmee saam. "Laat niemand julle van julle prys beroof nie". Kyk mooi hoe hierdie vers geskryf is. Mense sê soms ons moet hard werk om dalk eendag 'n prys te kan kry. Wel dit is nie heeltemal verkeerd nie, maar aan die ander kant moet ons ook na die saak kyk van God se kant. Die Here kan nie wag om jou prys aan jou te oorhandig nie. Dit lyk vir my die prys lê al klaar daar gereed. Nou moedig die apostel jou sterk aan: Asseblief, moet nie moeg word nie, moet nie verdwaal op afdraaipaadjies in hierdie resies nie. Daar is 'n klomp mense, onder aanvoering van die duiwel, wat jou wil mislei en jou aandag van die waarheid af wil weglei. Moet nie na hulle luister nie. Die Here het 'n prys vir jou in gereedheid!

Die waarskuwing in vers 16 sê dat mense ons graag oordeel oor skaduwees waaraan ons nie meer vashou nie. Ons gedenk nie die sabbat of sekere feesdae nie. Ons spreek nie in tale nie. Ons onderwerp ons nie aan die "Christelike doop nie" ens. CF Baker het 'n oulike storietjie om die waarheid te illustreer. Iemand trou met 'n beeldskone vrou. Maar in sy onnoselheid dink hy hy is haar nie waardig nie. Hy kyk nie na haar nie, praat nie met haar nie en omhels haar nie. Hy gaan sit net voor 'n portret van haar en, dra nog 'n foto van haar in sy sak en soen die foto 'n paar keer op 'n dag. Nou ja, die storie is dat jy nie moet toelaat dat so 'n drommel jou probeer skuldig laat voel dat jy nie glo aan fotos nie maar eerder jou vrou se deelgenootskap en liefde geniet. As jy die werklikheid het, moet jy jou nie ophou met skaduwees nie.

Let ook op hoe die waarskuwing van vers 16 deur drie baie belangrike verse voorafgegaan word (vers 13-15). Hierdie drie verse beskryf die werklikheid (sonder skaduwees en foto's) wat ons van die Here ontvang het. Vers 16 volg direk daarop en sê: "Laat niemand jou dan oordeel ... " Die dan in vers 16 koppel dit baie mooi met die vorige drie verse. Dit is nou die rede waarom ons nie skaduwees kan of mag of wil gebruik nie. Die goed hou ons net weg van die werklikheid af.



 


|Kolossense II| |Kolossense| |Terug na Bybelglo.com| |Kol. 2:4| |Dwalings| |Kol. 2:5| |Kol. 2:6| |Kol. 2:7| |Kol. 2:8| |Kol. 2:9| |Kol. 2:10| |Kol. 2:11| |Kol. 2:12| |Kol. 2:13-23| |Kol. 2:13| |Kol. 2:14| |Kol. 2:15| |Kol. 2:16| |Kol. 2:17| |Kol. 2:18| |Kol. 2:19| |Kol. 2:20| |Kol. 2:21,22| |Kol. 2:23| |Kol. 3:1-4| |Kol. 3:1| |Kol. 3:2|