"Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik"

So nou en dan kom ons in die Bybel af of 'n kort versie wat in 'n neutedop 'n verreikende, ewige, verligtende waarheid van Jesus Christus en sy evangelie uitspel. Kol. 2:9 is by uitstek so 'n vers. Daar is nog 'n rede waarom hierdie vers uitstaan in die briewe wat direk aan die kerk van vandag, die liggaam van Christus, geskryf is: Die sleutelwoord in die vers kom net een keer in die Bybel voor! Kom ons gee hierdie vers in ons nadenke ten volle die plek en die tyd wat dit verdien!

Die woord waarvan ons praat is Godheid. Of maak ons dalk 'n fout? Kom die woord dalk ook in Rom. 1:20 voor? Die verskil tussen die woorde in Rom. 1:20 en Kol. 2:9 is nie in alle vertalings duidelik nie. In die ou Afrikaanse vertaling is ons egter gelukkig dat in Romeine daar staan "goddelikheid" terwyl dit in Kolossense "Godheid" is. Die King James Version wat normaalweg 'n betroubare Engelse vertaling is, verwar die twee woorde. Beide word weergegee met "Godhead". In Grieks is die een in Romeine "theiotes" en die een in Kolossense is "theotes".

Let op dat Rom. 1:20 praat oor God se eienskappe - sy krag en sy werke in die natuur waardeur Hy geken kan woord. Ons almal kan die goddelikheid in die natuur raaksien. Dit het nie toevallig ontstaan nie en is nie deur 'n mens gemaak nie. God self is die oorsprong daarvan. Tog kan ons nie in die sin van Kol. 2:9 "Godheid" in die natuur sien nie. Die bome, berge en riviere is nie "God" nie. "Panteïsme" is 'n soort geloof wat god in alles raaksien en wat die natuur aanbid. Dit is nie hoe ons daaroor dink nie en ook nie die Bybel nie en daarom is daar in die Bybel in Rom. 1:20 en Kol. 2:9 twee verskillende woorde gebruik.

Kol. 2:9 praat nie soos Rom. 1:20 van dinge waaruit die godheid afgelei kan word nie, dit praat oor die werklike wese van God self. Jesus Christus is dus nie soos die bome en die berge maar net 'n bewys dat God wel bestaan nie, nee, Hy is self volkome vol van die Godheid.

Steve Hofmeyr sal nie ontsteld wees as hy op 'n dag agterkom dat Jesus nooit God was nie, hy het dit dus reeds vermoed. Maar ek is nogal taamlik seker van iets wat Steve wel sal ontstel. By die wegraping gaan hy agterkom dat al die mense wat geglo het dat Jesus waarlik God is, skielik almal weg is. Ek is seker dat hy dan wel 'n slapelose nag of twee mag hê, veral as hy besef dat hy dalk 'n paar duisend mense mislei het om sy drogrede te glo. In die lig van die drogredes wat ons vandag in die gesig staar, is Kol. 2:9 net so aktueel soos die dag toe Paulus die vers laat opteken het.

Die Gnostiek wat in Paulus se tyd hoogty begin vier het, het Jesus ook net gesien as 'n verskynsel van die goddelikheid. Hy was vir hulle soos die engele een of ander uitstraling van die goddelikheid. Hy was 'n tweede of derde klas afgeleide verskyningsvorm van God. Daarom het hulle ook nie geglo dat hy werklik 'n menslike liggaam gehad het nie. Hy was soos 'n sigbare verskyning van 'n engel. Nee, sê Paulus in ons vers, Jesus het 'n liggaam en die volheid van die Godheid woon in sy liggaam. In die lig hiervan kan die werklike bedoeling van ons vers nog duideliker verstaan word.

Afgodsdienaars aanbid "god" deur sigbare tekens van die goddelikheid soos die natuur, beelde, portrette en gebeurtenisse. Hulle het geen begrip daarvan om persoonlik deur Jesus Christus God te ontmoet nie. Ons aanbid nie 'n eienskap of manifestasie van God nie, ons aanbid God self wat in persoon Hom na ons neergebuig het, in ons kom woning maak het en ons reeds saam met Hom na die hemel geneem het.

Die waarheid van Kol. 2:9 staan vir alle tye. Die werkwoord is "woon" (voortdurende teenwoordige tyd). Voordat Hy mens geword het, was God se volheid reeds in Jesus (soos in Kol. 1 gesien), tydens sy aardse bediening was dit die geval en nou waar Hy aan die regterhand van God sit om ons te verteenwoordig is dit nog steeds so.

Paulus se antwoord aan die valse leraars van sy tyd, beide die wat die stoigeia aangehang het en die afgodsdienaars en ook die Gnosiek, is Jesus Christus. Letterlik sê hy vir hulle: Nee mense, julle is verkeerd, want al die volheid van die Godheid woon liggaamlik en vir altyd in Jesus Christus.

In 'n groot mate is hierdie vers 'n herhaling van dit wat ons reeds in 1:19 gehad het, maar 'n doellose herhaling is dit nie! Dit is 'n kardinale belangrike punt wat in alle eeue deur vervalsers van die evangelie bestry is en nog steeds bestry word (meer as ooit tevore). Daarom word die punt duidelik, kort en kragtig, sonder enige moontlikheid dat dit misverstaan kan word in twee verskillende kontekste herhaal. In hoofstuk een vorm dit deel van die beskrywing van die wese van Jesus Christus. In hoofstuk twee vorm dit deel van die apostel se antwoord aan die vervalsers van die evangelie.

Die praktiese implikasies van hierdie waarheid kring baie wyd uit. Die volgende vers (1:10) sal ons help om behoorlik daaroor na te dink. As ons Jesus aangeneem het, dan is God self elke dag in ons lewe. Daarom gaan bid ons nie in 'n tempel of moskee of in 'n kerk nie, ons gaan nie op na die altaar in die kerk om daar "nader" aan die Here te kom nie, ons aanbid nie beelde en kruise nie en ons brand nie kerse nie, ons wag nie vir "spesiale dae" wat ons vier en wat ons "nader" aan die Here kan bring nie, ons trek nie spesiale klere aan om die Here nader aan ons te bring nie, ons ondergaan geen rituele om die Here by ons te hê of by ons te hou nie.

Maar asseblief, die waarheid van "God in Christus" en "Christus in ons" kan ons nie net laat dink aan dinge wat ons nie doen nie. Dit moet bowe al ons sterk onder die oortuiging bring van wat ons wel gaan doen. Gaan dink nog verder hieroor na tot ons volgende keer praat oor die waarheid van "God in Christus" en "Christus in ons" na aanleiding van Kol.1:10.



 


|Kolossense II| |Kolossense| |Terug na Bybelglo.com| |Kol. 2:4| |Dwalings| |Kol. 2:5| |Kol. 2:6| |Kol. 2:7| |Kol. 2:8| |Kol. 2:9| |Kol. 2:10| |Kol. 2:11| |Kol. 2:12| |Kol. 2:13-23| |Kol. 2:13| |Kol. 2:14| |Kol. 2:15| |Kol. 2:16| |Kol. 2:17| |Kol. 2:18| |Kol. 2:19| |Kol. 2:20| |Kol. 2:21,22| |Kol. 2:23| |Kol. 3:1-4| |Kol. 3:1| |Kol. 3:2|