"As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge"

Ons het saam met Christus gesterf en nou lewe ons, maar nie in die wêreld nie. Ons fisiese omgewing waarin ons leef mag ongelukkig wel nog die wêreld wees, maar as jou geestelike belewenis ooreenstem met die gebruike en oortuigings van die wêreld, dan het jy 'n probleem. Ons het toe ons Jesus as Here aangeneem het, identifiseer met sy dood aan die kruis. Hy het aan die kruis gesterf vir die sonde van die wêreld en tot bevryding van die beginsels en dekrete van wêreldse godsdienste. En let wel, die godsdiens van die Ou Testament is ook een van die wêreld se godsdienste. Ons behoort nie daaraan nie, ons behoort aan die liggaam van Christus (2:17).

In ons vers word dit nie eers genoem van die sonde waarvan ons saam met Christus gesterf het nie, maar eerder word hier gepraat van die stoigeia (eerste beginsels van die wet) en die dekrete, ordinansies of dogmas van die godsdiens van die wêreld (insluitende die godsdiens van die Ou Testament). Ons het reeds by vers 8 gepraat oor die stoigeia en hier word dit nou weer genoem. Ek was daar by vers 8 nog 'n bietjie versigtig om die waterdoop in te sluit as een van die stoigeia, maar nadat ons nou in Kol. 2:12 duidelik gesien het wat die doop eintlik is, glo ek dat dit ook as een van die uitgediende stoigeia uitgewys moet word. Die woord stoigeia word ook in Hebr. 5:12 voor en drie verse verder kom die doop voor in 'n lys stoigeia wat nou gelos moet word.

Soos ons reeds by vers 8 aangetoon het, is die kennis van hierdie stoigeia geweldig belangrik: "Hierdie goed is belangrik, baie, baie belangrik. Hou vas aan enige een van hierdie stoigeia en jy verkleineer onmiddellik vir Jesus Christus. As jy sê mens word gered deur bekering, dan verkleineer jy die waarde van die kruis van Christus. Dan het Jesus verniet aan die kruis gesterf. As jy glo aan feesdae en die Sabbat, dan maak jy van die Christelike geloof, wat geestelik veronderstel is om te wees, ‘n uiterlike fisiese seremonie wat in ons tyd totaal nutteloos is." En dan het Paulus reeds in 1 Kor. 1:17 aangetoon hoe die waterdoop die kruis van Christus verydel.

Besef vandag se Christene dit werklik: Die kruis het ons nie alleen verlos van sonde nie, maar ook van die insettinge van die ou verbond. Neem asseblief kennis dat die insettinge van die ou verbond "wêrelds" is en dat daar niks geestelik daaraan verbonde is nie. Ons vers maak dit duidelik.

Behalwe stoigeia kom hier ook 'n ander woord in ons vers voor waaraan ons verder aandag moet gee: dogma. Een van die teologiese vakke wat predikante bestudeer is "Dogmatiek", die leerstellings van die kerk soos dit uit die Bybel afgelei word. Probleem is net dat die woord "dogma" in die Bybel byna altyd verwys na die uitgediende ou beginsels van die ou verbond, of na dekrete of wette soos ook hier in ons vers. Die basiese betekenis van 'n dogma is eintlik 'n "dekreet" of 'n "proklamasie" eerder as 'n leerstelling soos dit vandag gebruik word. Kyk ook na Kol. 2:14 hoe dogma daar ook in negatiewe sin gebruik word (insettinge). Hieruit lei ek af dat dit eintlik die bedoeling van die vak Dogmatiek in die teologie was om gesagvolle dekrete van die kerk op mense af te dwing, en tweedens om die insettinge van die ou bedeling wat volgens die Bybel uitgedelg is, nog steeds voort te sit.

Gaan lees maar in die "dogmatiek" van die groot kerke en kyk hoeveel insettinge van die ou bedeling daarin voortgesit word: Die verbond, die wet, die Sabbat, die besnydenis (in 'n nuwe vorm wat die Bybel nie bedoel het nie), Israel se uitverkiesing, ens. ens. Dus: hoewel ek met baie goeie Bybelse redes nooit die woord dogma sal gebruik vir die leringe van die kerk as die liggaam van Christus nie, kan ek wel duidelik verstaan waarom die woord gewild en gepas is in die teologie van die groot kerke. Lees ook die volgende verse vir die betekenis van die woord dogma: Luk.2:1, Hand. 16:4; 17:7, Ef. 2:15 en dan die twee in Kolossense. Hier in 2:18 is dit eintlik 'n werkwoord: "om jou aan insettinge te onderwerp".

Hierdie brief word gerig aan mense wat saam met Christus gesterf het en dus ook saam met Hom in 'n nuwe lewe opgestaan het (Rom. 6:4,8). Sulke mense kan nie iets te doen hê met uitgediende godsdienstige reels nie. Hulle is volmaak in Christus en kan nie verstrengel raak in sulke godsdienstige onsinnighede nie.

Maar kom ons maak die ander kant van die munt ook duidelik. Ons vers (en die meeste van die verse hier in Kolossense 2) waarsku teen 'n soort geestelikheid wat opkom uit onderhouding van reels. Maar nou kan dit maklik gebeur dat mense ons as wettelose rebelle beskou as ons net waarsku teen reels en wette en nie ook die regte "wette" van 'n God-geheiligde lewe na vore bring nie. Dit word wel ook in Kolossense gedoen in hoofstuk 3 en verder.

Daar is dus 'n baie groot verskil tussen die uitgediende godsdienstige reels wat in hoofstuk 2 afgewys word en die regte verantwoordelike toegewyde lewenshouding wat later in die boek aan ons voorgehou word. Wat is die verskil tussen die twee? Die dogmas en die stoigeia wat ons moet los, is die idee dat die streng nakoming van reels ons geestelik op 'n hoër vlak kan plaas. Dit is buite die kwessie. Nuwe Testamentiese Christenskap werk nie so nie. Dit wat jy doen is nie die bron van jou geestelike bestaan nie. Jou bron is Jesus Christus en Hy alleen (Kol. 3:1-4). En dan is dit daarná dat jou innerlike geestelike krag wat uit die hemel alleen kom, jou bekragtig en aanspoor om gedissiplineerd en tot eer van God te leef.

Hier verwys ek veral na die diskussie tussen die "lordship salvation" (veral John MacArthur) en die fundamentele "grace"-predikers. Laasgenoemde word dikwels onregmatig deur die "lordship-salvation" beskuldig dat hulle wetteloosheid voorstaan. Dit is nie waar nie. As Paulus net Kolossense 2 geskryf het en nie ook Kolossense 3 daarna nie, sou ons Paulus ook daarvan kon beskuldig dat hy wetteloosheid voorstaan. Nee, maar daar is 'n massiewe groot verskil tussen die idee dat mens geestelik punte kan aanteken deur reels te onderhou (wat baie sterk afgewys moet word - ons punte kry ons net deur die geloof in - en verbondenheid aan Jesus Christus) en aan die ander kant 'n praktiese lewe wat in handel en wandel - in alles - Jesus Christus wil verheerlik sonder om daardeur een enkele verdere punt aan te teken. Ons "wette" van die genade-dispensasie val alles net in hierdie laaste kategorie en word van Kolossense 3 af verder behandel.



 


|Kolossense II| |Kolossense| |Terug na Bybelglo.com| |Kol. 2:4| |Dwalings| |Kol. 2:5| |Kol. 2:6| |Kol. 2:7| |Kol. 2:8| |Kol. 2:9| |Kol. 2:10| |Kol. 2:11| |Kol. 2:12| |Kol. 2:13-23| |Kol. 2:13| |Kol. 2:14| |Kol. 2:15| |Kol. 2:16| |Kol. 2:17| |Kol. 2:18| |Kol. 2:19| |Kol. 2:20| |Kol. 2:21,22| |Kol. 2:23| |Kol. 3:1-4| |Kol. 3:1| |Kol. 3:2|